13 Januarie 2020
Landbouers in die Sentraal- en Klein-Karoo van die Wes-Kaap is hoopvol dat die volgende paar weke nóg goeie reën gaan bring nadat hierdie droogtegeteisterde gebiede verlede week welkome reën gehad het.
“Ons is dankbaar dat die nuwe jaar op so ‘n geseënde manier vir ons produsente in die Karoo begin het wat al vyf jaar onder die droogte gebuk gaan. Die reën het baie hoop gebring, maar nog nie uitkoms nie,” sê mnr Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.
Hy sê opvolgreën is krities nodig vir plaas- en opgaardamvlakke en vir die natuurlike weiding om te herstel. “Produsente kan dalk een of twee jaar van ondergemiddelde reënval hanteer, maar die uitwerking van vyf jaar se ongergemiddelde reën kan waarskynlik net uitgewis word met vyf agtereenvolgende bogemiddelde jare. Ons glo verlede week se buie is die begin van ‘n goeie reënseisoen.”
Mnr Strydom sê produsente in die Klein-Karoo hou duimvas dat genoeg reën in die berge val omdat die uitkoms ook daarin lê dat die riviere moet loop.
Ten spyte van die reën is produsente in die Sentraal- en Klein-Karoo nog lank nie uit die moeilikheid nie. Agri Wes-Kaap lewer steeds droogtehulp in die Karoo en die Matzikama-distrik aan die Weskus.
Foto: Die Trakarivier in die omgewing van Prins Albert is na vier jaar weer aan die loop.